DIÉ LUR VAN GESONDHEID SE WOORD IS WET
- Inge Kühne
Rapport 15 MARCH 2003
Iemand het die afgelope week 'n afdruk van 'n koerantvoorblad met dr. Thys von Mollendorff se foto en die woorde 'n HELD op die deur van die omstrede Grip-sorgkamer vir verkragtingslagoffers in die Rob Ferreira-hospitaal in Nelspruit opgeplak.
Niemand het dit verwyder nie.
Dae lank het dosyne pasiënte en hospitaalpersoneellede in die buitepasiënte-afdeling hul gang gegaan langs die uittartende plakkaat wat die soveelste openbare nederlaag van me. Sibongile Manana, die provinsie se LUR vir gesondheid, verkondig.
Manana duld gewoonlik nie sulke dislojaliteit nie. Het sy van die plakkaat geweet, sou sy dit vir seker laat verwyder het, nes sy voorheen die Greater Nelspruit Rape Intervention Project (Grip) se naambord buite hul kantoor in die stad laat afhaal het. Sy sou woedend gewees het vir wie ook al dit daar opgeplak of nagelaat het om dit af te haal. Mense is al weens mindere oortredings uit haar departement geskors.
Von Mollendorff, voormalige superintendent van die Rob Ferreira, is een van hulle. Hy is aanvanklik in Oktober 2001 geskors omdat hy volgens Manana gelieg het oor die aantal sleutels wat daar is vir die deur van Grip se sorgkamer. Later is hy aangekla en afgedank omdat hy Grip in die hospitaal toegelaat het.
Die afgelope week, te midde van eise om Manana se kop, is die aanklagte teen hom teruggetrek en die departement moet hom 'n jaar se salaris en voordele en sy regskoste uitbetaal.
Manana, 'n voormalige verpleegster, is in Junie 1999 aangestel in die kabinet van premier Ndaweni Mahlangu, met 'n graad in verpleegwetenskap van Unisa en vyf jaar ervaring as agterbanker in die Mpumalanga-wetgewer agter haar naam. Maar sy het vriende op die regte plekke gehad: Mahlangu, 'n handvol van die magtigste lede van die provinsie se uitvoerende raad en die nasionale gesondheidsminister, dr. Manto Tshabalala-Msimang.
Vriend en vyand sê Manana, 'n alleenloper, is ongelooflik hardwerkend. "Sy kan werk van Sondag tot Sondag. Vir haar is dit nie buite die kwessie om tot drie-uur in die oggend in 'n vergadering te sit nie, sê haar woordvoerder, Dumisani Mlangeni.
Sy het dadelik ná haar aanstelling met ywer aan die werk gespring om primêre gesondheidsorg in haar provinsie te verbeter. Onder haar bestuur is 9 van die provinsie se 27 hospitale opgegradeer, 13 klinieke gebou, bouwerk begin aan 'n nuwe hospitaal met 140 beddens in Piet Retief en 108 ambulanse en 32 mobiele klinieke aangeskaf.
Sy het ook ywerig begin om haar departement te herskik. Of dit deel was van haar plan, is nie duidelik nie, maar in 2001 is 23 dokters by die Rob Ferreira- en die Themba-hospitaal weg.
Haar kritici meen sy het die departement verlam met vrees deurdat sy mense links en regs weens oortredings aangekla en geskors het.
"Almal was in vrees en bewing. Sy was baie outokraties. Sy hou glad nie van iemand wat anders dink as sy nie. Administratief het sy geen ervaring gehad nie en medies min. Ongelukkig wou sy ook geen raad aanvaar nie," sê 'n dokter wat tevore onder Manana in die departement gewerk het.
By geleentheid is die hele bestuur van die Rob Ferreira aangekla oor die Grip-debakel.
Vir Von Mollendorff het sy botsing met Manana die einde beteken van 'n loopbaan van twee dekades in die gesondheidsdienste in Mpumalanga.
"Dit was die eerste keer dat ek beleef het dat politici hulle inmeng in dokters se mediese behandeling," sê hy.
Hy wil nie sy pos terughê nie. "Dit sal net twee of drie maande wees, dan kla hulle my weer aan weens iets."
As Manana onthou word ná die einde van haar politieke loopbaan, sal dit wees oor haar onverbiddelike houding jeens die gebruik van antiretrovirale middels om vigs te voorkom. Dit het begin met 'n lomp (en mislukte) poging in 2000 om Grip uit die Rob Ferreira-hospitaal te gooi. Die afgelope week, ná talle mislukte hofgedinge met 'n totale koste van ver meer as R100 000, is sy deur die NNP bestempel as "seer seker die rekordhouer van verloorde hofsake".
Haar geveg met Grip gaan in die geval van die Rob Ferreira om 'n kamertjie van skaars 3 m x 6 m in die ongevalle-afdeling waar verkragtingslagoffers in privaatheid ondersoek kan word en berading kan kry. In die Themba-hospitaal in KaBokweni en nog 'n kliniek het Grip soortgelyke geriewe ingerig. In alle gevalle wou Manana hulle uit hê bloot omdat hulle, bykomend tot berading, antiretrovirale middels aan slagoffers gee.
"Dit het amper by haar 'n obsessie geword om te baklei teen die antiretrovirale middels. Maar dit gaan vir haar nie soseer om die mediese beginsels nie as dat sy die gebruik daarvan beskou as 'n aanslag op die ANC," sê mnr. Chris MacPherson, leier van die NNP in Mpumalanga.
Toe dit nog nie regeringsbeleid was om antiretrovirale medisyne aan verkragtingslagoffers voor te skryf nie, het Manana gesê dié middels is "gif" en dat die gebruik daarvan 'n sameswering is om die ANC-regering te ondermyn.
Sy het vasgebyt met haar standpunt totdat sy vroeër vanjaar gedreig is met tronkstraf weens minagting van 'n hofbevel omdat sy nie antiretrovirale middels aan swanger vroue beskikbaar gestel het nie.
Deesdae kry verkragtingslagoffers in 'n stuk of tien hospitale in Mpumalanga 3TC en AZT en die regering gee in elf van die provinsie se hospitale nevirapien aan MIV-positiewe swanger vroue.
Maar hoe Manana daaroor voel, is 'n ope vraag. Sy praat selde met die media en het die laaste paar weke herhaalde versoeke om 'n onderhoud van Rapport geweier.
"Dit is nie 'n geval dat sy verander het nie. Dit gaan daarom om by regeringsbeleid te hou," het haar woordvoerder Vrydag gesê.
Dit is wat baie van Manana se kritici teen haar hou: dat sy só gesteld is daarop om die regering en die ANC tevrede te hou dat sy glad nie eie oordeel gebruik nie.
Enige kritiek, selfs van die hof, is soos water op 'n eend se rug. Selfs sommige van haar kollegas in Mpumalanga se kabinet het glo nie veel ooghare vir haar nie, maar tog klou sy aan haar pos.
"Sy sit stewig, ondanks al die interne moeilikheid. Sy sal in haar pos bly tot minstens die volgende verkiesing. Wat daarna sal gebeur, weet 'n mens nie," sê MacPherson.
"Sy dien die ANC, of liewer die regte mense binne die ANC, met blinde lojaliteit. Sy glo dit is wat die ANC van haar verwag. Sy is lief vir haar pos, want dit gee haar status.
"Sy weet dit is net die premier wat haar kan afdank en sy steur haar aan niemand anders nie," sê MacPherson.
Manana is inderdaad blykbaar baie statusbewus. Sy herinner mense maklik daaraan dat sy "MEC Manana" is. Op haar eerste besoek aan die Rob Ferreira-hospitaal was sy erg in die gesig gevat omdat die personeel haar soos alle ander belangrike besoekers by die voordeur en nie by die hek nie ingewag het.
Manana het by geleentheid aan Barbara Kenyon, hoof van Grip, gesê sy moet haar vir seker haat.
Kenyon sê die teendeel is waar. "Ek hou eintlik van haar. Ons soen en druk elke keer as ons mekaar sien. Sy behandel my met grasie. Toe ons operasionele bestuurder in 'n motorongeluk dood is, het sy vir 'n uur met my gesit en gesels daaroor. Ek weet sy hou niks persoonliks teen my nie. As jy ons twee alleen in 'n kamer los, sou ons dié ding kon uitstryk," sê Kenyon, 'n tenger ma van twee kinders.
"Maar sy word verkeerd geadviseer en sy het baie skade gedoen aan slagoffers van verkragting. Ons kon teen dié tyd baie meer sorgsentrums gehad het as dit nie vir haar teenkanting was nie. Elke kind wat verkrag word en nie antiretrovirale middels kry nie, is 'n kind wat dalk oor twee jaar sterwend kan wees."
'n Prokureur wat in 'n stadium namens een van haar opponente opgetree het se beskrywing van Manana is minder vleiend: "Ek het die indruk gekry dat sy onbevoeg is en dat haar besluite gegrond is op politieke mag en nie op die intelligente oorweging van 'n saak nie."
Maar dalk is die beste opsomming van die vrou aan die stuur van gesondheidsorg in Mpumalanga dié woorde van 'n jong werknemer in haar departement: "Sy is baie gaaf as sy praat, maar as sy optree, is dit sleg."
 Print this article click here
|