in the news

back to news main page

DEPT. LAAT VAAR REGSAKSIE   -   Linda de Nysschen

Beeld 5 MARCH 2003

Nelspruit. - Mpumalanga se gesondheidsdepartement het besluit om sy omstrede hofsaak teen die Greater Nelspruit Rape Intervention Project (Grip) te laat vaar.

Dié aankondiging is Woensdagmiddag laat aan die media gedoen, maar nog nie aan Grip of die Aids Law Project (ALP) wat namens hom optree nie.

Die twee organisasies het vir die eerste keer daarvan te hore gekom toe Beeld hulle om kommentaar genader het.

Me. Sibongile Manana, LUR vir gesondheid, het die afgelope drie jaar talle bloutjies geloop in haar stryd om Grip uit 'n beradingskamer vir verkragtingslagoffers in die Rob Ferreira-hospitaal te sit.

Luidens 'n verklaring deur mnr. Dumisani Mlangeni, Manana se woordvoerder, het die partye ooreengekom om hulle te verbind tot 'n moontlike skikking van die geskil. Die besluit kom glo ná uitgerekte onderhandelings tussen die departement en die nie-regeringsorganisasie.

Maar selfs dié verklaring word bevraagteken. Grip het glo daarvolgens erken hy het die kamer onreëlmatig beset sonder "behoorlike" toestemming van die departement.

Me. Liesl Gerntholtz van die ALP het gesê dit is onwaar.

Grip het nog altyd volgehou hy het 'n wetlike reg om die kamer te gebruik. Dr. Thys von Mollendorff, voormalige superintendent van Rob Ferreira, is afgedank omdat hy Grip in die hospitaal toegelaat het.

"Geen ooreenkoms is bereik waarvolgens die terugtrek van die saak onderworpe is aan toekomstige onderhandelings en 'n skikking nie. Grip verwelkom egter enige geleentheid om saam met die departement te werk om sy diens aan verkragtingslagoffers te verbeter," het Gerntholtz gesê. 'n Afvaardiging van die ALP het Dinsdag samesprekings gevoer met mnr. Baldwin Ndou, Manana se regsverteenwoordiger, en 'n senior advokaat waartydens "moontlike maniere om die saak op te los" bespreek is, het me. Anita Kleinsmidt van die ALP gesê. Die departement het gevra die strekking van die samesprekings moet vir eers vertroulik bly.

Manana moes in Januarie al erken haar departement het geen regsvoet om op te staan in haar aansoek in die Pretoriase hooggeregshof om Grip uit die hospitaal te laat sit nie. Regter I.W.B. de Villiers het die hofsaak toe vir tien dae uitgestel om haar 'n kans te gee om die pleitstukke te verander.

Dit is volgens Mlangeni gedoen.

In Junie verlede jaar het regter Piet van der Walt die provinsiale gesondheidsowerheid al daarvan beskuldig dat hy geld mors met die regstappe.

Mev. Barbara Kenyon, stigterslid en uitvoerende beampte van Grip, het die kans verwelkom om die geskil op te los. Grip wil sy dienste in vennootskap met die gesondheidsdepartement na ander hospitale in Mpumalanga uitbrei. Grip het aanvanklik antiretrovirale medisyne gratis en per doktersvoorskrif aan verkragtingslagoffers verskaf.

Manana is erg daarteen gekant.

Print
Print this article
click here